'n Rustige vakansie met baie tyd vir leeglê en niks doen nie....Kry die eerste 3 dae se lang pad verby, dan is ons in Namibië en dan vat ons dit rustig tot en met die terugkomslag. Dis hoe dit in my kop was, ja. Dis NIE hoe die vakansie verloop het nie. Ons het mos al die rodeo gery, ons weet wat vir ons voorlê. Maar die geheue is effens kort. Lang dae, baie ry, baie stof, baie kamp opslaan en natuurlik die versegende hitte wat alles uit jou uit dreineer nie. Ons het geweet Februarie gaan warm wees, maar ons het nie besef dit gaan so intens wees nie. Die gepaargaande hittegolf het die kwik hier kort onder die 50 grade laat styg en 'n ligte briesie het gevoel of jy die warm oond oopmaak. Maar 'n rowwe dag op toer is nogsteeds beter as 'n perfekte dag op kantoor.
Die epiese toer het begin op die 2de Februarie; eintlik al 5 jaar van te vore net na ons van Etosha af teruggekom het. Toe kom Covid-19 en sy impak wat 'n jaar of so gehou het en met 'n paar persoonlike terugslae was hierdie die gouste wat ons weer Namibië kon aandurf. En ek bedoel aandurf. Hulle sê nie verniet "Namibia, the land of the brave" nie.
Hennie & Lee, Mike en Nelie, Monet, ek (Sonya), Andre en Marco
Wie ry saam?
Kar 1 – Pajero & Bushtrotter : Andre, Sonya en Monet Olivier asook Marco Harris Kar 2 – Toyota Land Cruiser : Hennie (Jakes) & Lee Jacobs Kar 3 – Mahindra S11 & Ventertjie : Mike & Nelie van Dyk
Van links na regs : Die Mahindra, die Pajero en die Cruiser (foto geneem by die Visrivier Canyon)
Die Roete
Ons roete het begin soos gewoonlik by die vierrigtingrobot in Krugersdorp. Van daar is ons na Kimberley, Douglas, VanWyksvlei (Verneukpan mis gery), Brandvlei, VanRynsdorp, Port Nolloth en dan deur die grens by Oranjemund. Dan het Ai-Ais, Hobas, Aus, Luderitz, Helmeringhausen, Sesriem, Sossuvlei, Mariental en Gochas gevolg. Ons is weer terug in Suid-Afrika deur die maklikste grenskruising in geskiedenis by Mata-Mata en van daar dan via Upington huistoe. 'n Rowwe totaal van 5540 kilometer. Die fotos is ons 3 Oliviers & Marco s'n behalwe waar ek dit anders gemerk het.
Die toer in 'n oogwenk. Click op die datum om daardie dag se avonture te lees en te sien :